Resensie
In die Nimmer-Immer Bos Riana Scheepers
Die Bybel skryf in Spreuke oor ’n wonderlike vrou, die deugdelike Mevrou, in Spreuke 31. Hierdie vrou is voortreflik in alles wat haar kloeke hand vind om te doen: Sy is hardwerkend, regverdig, slim, energiek en vrygewig. As sy haar mond oopmaak, dan kom daar wyse woorde uit. Die Bybel sê dit nie, maar dié mevrou was seker nog ’n voortreflike kok en minnaar óók, en natuurlik was haar kinders nooit gruwelik nie. Kortom, sy was ’n supervrou.
In die Afrikaanse kinderliteratuur het ons ook ’n vrou. Haar naam is Linda Rode. Slaan sy haar hand aan ’n teks, of dit nou in die rol van samesteller, redakteur óf skrywer is, dan kan die leser maar weet: die resultaat is ’n deeglike, slim, energieke, vrygewige, pragtige boek.
Haar nuutste, en sekerlik haar mees ambisieuse projek tot dusver, is die sprokiesbundel In die Nimmer-Immer-Bos. En dit kom op ’n tyd dat vele ma’s van kleuters vir my vra: Wáár is ’n moderne Afrikaanse sprokiesboek? Wel, hier is dit, moeders en oumas en alle bobbejaantjies, klap julle handjies en vier ’n groot, vet fees, want hier is jul heerlike, dik, groter as groot sprokiesboek! Dit is so ruim en wyd soos die aardbol, so opwindend en misterieus soos ’n donker woud, so leersaam soos ’n ensiklopedie, maar bowe-al so lekker soos ’n winkel vol swieties waaruit ’n kind kan kies wát hy of sy maar wil. (Boonop gesonde swieties, kan jy meer.)
Die sprokies wat in die bundel opgeneem is, is van oor die hele wêreld byeengebring. Die meeste ouer lesers wat hierdie boek vir hul kinders en kleinkinders gaan koop, ken die Europese verhaleskat van sprokies, maar moet tog nie dink dat die broers Grimm die enigste meestervertellers was nie.
Ons is (destyds) slegs by uitsondering, of toevallig, bekend gestel aan Russiese, Inheems-Amerikaanse, Indiese, Portugese of Chinese sprokies, en ook nie aan ons eie Afrika-sprokies nie. Daardie wanbalans is nou reggestel, want Rode het haar net wyd uitgegooi. Boonop het sy nie net as bloemleser bekende sprokies byeengebring nie, sy het dié genre self betree en haar eie sprokies geskryf, onder andere in “Ver oor die berge tot by die blou see” wat gebaseer is op die Engelse kleuterrympie “Tom the playful Piper” en “So lyk die wêreld” wat ’n verwerking van die anonieme vers “The World” is. Sommige sprokies is, binne die tradisie van die sprokie, ook in ’n Suid-Afrikaanse konteks oorvertel. Hierdie pens-en-pootjies-inklim bewys Rode se oorgawe en vreugdevolle deelname aan sekerlik die lekkerste van alle storiesoorte.
Die kort, pittige opmerkings aan die einde van die verhale oor die herkoms van die sprokies, of ’n spesifieke sprokie se konteks binne ’n groter geheel, of selfs die aangee van ekwivalente vir ’n woord soos byvoorbeeld “lewerik as klappertjie/ klapklappertjie / klapklappie” is ’n ryk ensiklopedie van kennis vir die meer volwasse leser.
Ek het nooit geweet dat die bekende Grimm-sprokie van die wolf en die sewe bokkies reeds eeue tevore in die Latynse Romulus-fabel- versameling voorgekom het nie. Nou weet ek. En selfs dat Vlaamse sprokies ekwivalente in die Boes- man-folklore het.
In geen resensie oor hierdie boek kan nagelaat word om na Rode se sprankelende, byderwetse en klanknabootsende taalvermoë te verwys nie. Hierdie stories is nie geskryf nie, dit word vertel, deur ’n meesterverteller. “Toe, hamba!,” sê Leeu vir Muis, Haan skrik hom betjoeks vir ’n Prêriewolf, en daardie fyne ou meisietjie wat ’n bloukol van ’n kleine ertjie gekry het, is ’n fyntamaryn-prinses. Lees “Die likkewaan wat fluit wou speel” om te sien hoe toeganklik en poëties ’n Afrika-verhaal vertel kán word.
Fiona Moodie se illustrasies is ewe voortreflik. Dit is nooit eenselwig nie, maar sensitief en slim aangepas by die styl wat met die land van oorsprong geassosieer word. Die Chinese sprokies is Chinees geïllustreer, die Afrika-sprokies is getrou aan Afrika.
Ek wil ’n kritiekie uitspreek, maar by voorbaat weet ek dit is onregverdig: Hoekom is dié yslike, dik boek so dun? Kon daar nie maar méér van als wees nie? Ek is veral jammer dat so min Skandinawiese en Russiese sprokies opgeneem is, wat vanweë die wye emosionele spektrum, die kompleksiteite en mineurtoon waarmee dit werk, van die beste ter wêreld is. Maar meer van húlle sou ten koste van die Ghanese, Indiese, Indonesiese en Boesman-stories gewees het, en dit wil ek ook nie hê nie.
Die Bybel sluit in Spreuke 31 af met die woorde: “Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal. Gee haar wat haar toekom.” Ek luister graag na dié Bybelse voorskrif, vir haar voortreflike werk met In die Nimmer-Immer-Bos ek gee haar wat sy verdien: vyf sterre.
TAFELBERG-UITGEWERS, KAAPSTAD. (HARDEBAND, 256 BLADSYE, ISBN 978-0-624-04767-4.)
Riana Scheepers is ’n skrywer en letterkundige van Wellington.Lees meer...
Lees meer...
|